Coq Au Vin in 'n potjie

Coq Au Vin -hoender in rooiwyn- is 'n klassieke Franse dis wat jy maklik kan berei in ‘n potjie op ‘n vuur. Met Suid-Afrikaanse wyn, as jy wil! As jy met familie of vriende gebraai het en daar is 'n paar halfgedrinkte bottels wyn oor, dan is Coq Au Vin die dis wat jy moet maak. Die wyn wat jy gebruik kan ‘n mengsel wees van verskillende bottels, solank alles van billike gehalte is.

Wanneer jy wyn in jou kos gebruik, behoort dit van dieselfde gehalte te wees as wyn wat jy sal drink. Dit beteken natuurlik nie dat jy jou beste bottel wyn spesiaal vir die resep hoef oop te maak nie... Kies net nie die goedkoopste wyn wat jy kan kry nie, dis al.

Coq Au Vin in 'n potjieWat jy nodig het (vir 6 hongerige gaste)...

* 2 sopies olie of botter (50 ml)
* omtrent 20 klein uitjies (afgeskil en heel)
* 1 wortel (opgekap)
* pietersielie (fyngekap, dieselfde volume as die opgekapte wortel)
* 4 takkies vars tiemie
* 1 pakkie gerookte streepspek
* 1 pakkie heel sampioene (omtrent 250 gr)
* 2,5 kg hoenderstukke (enige mengsel van dytjies, boudjies en borsies)
* 1 sopie koekmeel (25 ml)
* 1 bottel rooiwyn
* 1 sopie tamatiepasta (25 ml)
* 2 teelepels sout
* 2 teelepels grof, gemaalde swartpeper
* 1 sopie pietersielie (fyngekap)

LAAT WAAI!

1) As jou hoenderstukke vel aan het, trek dit af in die geval van stukke waar dit maklik is om te doen, soos dytjies en borsies. Los maar die vel aan op moeilike stukke soos boudjies.

2) Sit jou potjie op medium hitte en voeg die olie en botter by. Sodra daar hitte is, voeg jy die uie, wortels, pietersielie, tiemie, spek en sampioene by. Braai oor medium hitte totdat die spek goudbruin begin raak.

3) Voeg die hoenderstukke by en braai vir ‘n paar minute tot die hoender effens bruin begin raak.

4) Strooi die meel oor alles en roer, om die hoenderstukke daarmee te bedek.

5) Voeg die rooiwyn en tamatiepasta by en roer deeglik. Sit die pot se deksel op en laat prut vir 60 minute tot alles sag begin raak. Haal die deksel af en laat ‘n bietjie van die vog uit die sous verder afkook.

6) Voeg sout en peper by na smaak. Haal van die hitte af, voeg die (laaste sopie) vars pietersielie by en bedien met gekookte wit rys.

En... Net om te bevestig, indien jy dalk wonder: jy bedien die gereg saam met rooiwyn!


Bron: Braai.com

Reacties

Wees de eerste om te reageren...

Laat een reactie achter
* Uw e-mailadres wordt niet gepubliceerd.
Wij slaan cookies op om onze website te verbeteren. Is dat akkoord? Ja Nee Meer over cookies »